Zastron logo r copy

skoollied

Ons Skoolwapen

Baie min van ons ken werklik die geskiedenis van die Hoërskool Zastron se wapen. Hierdie unieke skoolwapen het verskeie punte wat ons wil uitlig:

Die leuse: Facta Non Verba

Die betekenis: Dade nie woorde nie

Die geskiedenis van die skoolwapen – Reeds so vroeg as 1919 het leerlinge van die Hoërskool Zastron hulle skoolleuse “FACTA NON VERBA” op ‘n lintjie op hulle skoolwapensakke gedra. Daar was nog geen sprake van skoolkleure of voorgeskrewe skooldrag nie.

Dit sou eers in 1935 werklikheid word toe mev. Rhoda Coetzee ‘n kompetisie vir die ontwerp van die (gestreepte) skoolbaadjies gewen het.

Die eerste skoolwapen is ook in daardie jaar ontwerp deur die onderwyser in Kuns, mnr. Braam van Niekerk.

Mnr T.K. Sinclair, oudonderwyser in Geskiedenis en Engels kan beskou word as die vader van die gedagte van ‘n nuwe skoolwapen, en toe dit blyk dat dit bestaande wapen nie heraldies korrek was nie, is daar ontwerp, geteken, herontwerp en oorgeteken om aan die streng heraldiese vereistes te voldoen, asook soveel moontlik van die plaaslike geskiedenis, natuur en agtergrond simbolies of andersins, in die wapen te verwerk. Die eindproduk het die volgende weergegee.

Geskiedenis: Die slag van Vegkop is enkele kilometers buite die dorp Zastron, gelewer deur Kmdt. Louw Wepener, vandaar die simboliese voorstelling van Vegkop wat ten ooste van die dorp troon. Om die slag te herdenk, is ‘n tipe van die kanon wat gedurende die slag gebruik is ook op die wapen verewig en onder die berg op die wapen geplaas. Nie ‘n uitgediende kanon nie, maar ‘n kanon in aksie, om aan te sluit by die skoolleuse.

Die natuur en omgewing: Soos alombekend, is die Kransaasvoël aan die uitsterwe en was Aasvoëlberg, aan die voet waarvan die dorp geleë is, een van die weinige plekke in die Vrystaat waar hierdie voëls nog voorgekom het. Daarom was die gevoel dat die aasvoël behoue moet bly op die wapen, maar ‘n meer realistiese weergawe moes ontwerp word.

Om nader te kom aan die plantegroei van die streek, is die geharde besembos ingespan om die erewapen te versier en om sodoende volharding te simboliseer. Terwyl die gewone skolier net die strykystervormige wapen dra, word die halwe-erekleurewapen halfomring deur ‘n enkele stel besembosblare, geweef in wit katoen. Die volle-erekleurewapen is voorsien van ‘n dubbele stel besembosblare, geweef in silwer garing.

Mev Engela de Kock, oudonderwyseres aan die Hoërskool Zastron, het hierdie nuwe wapen ontwerp en na baie ure se werk was die resultaat die van die nuwe wapen wat in 1978 die oue vervang het.

Gaaf Botha (September 2001)