Zastron logo r copy

Skoolkafeteria / Gym

Facta Non Verba kry Ware Woorde

3Die klein skooltjie met groot gees in Zastron se leuse beteken: “Dade, nie woorde”.

Maar as daar dan woorde moet wees, laat dit dan “Ware Woorde” wees!

En dit is dan ook min of meer waar die naam van die nuwe, ekslusiewe, tydskrif-mooie koffiewinkel / snoepie / kuierplekkie/ spogplek by hoërskool Zastron se naam vandaan kom.

Geen ver-of plaas mamma hoef nou meer op die stoep, in die kantoor of onder die boom te wag tot die kindertjies klaar geleer is nie. Sy kan nou rustig in die nuwe oase gaan sit en koffie drink en word dan sommer van vlees en gees gevoed.

Hierdie nuwe, gees-geïnspireerde toevoeging, tot die reeds beste plattelandse skool in die land, is werklik ‘n bediening vir ons kinders sonder enige verbale preke. Terwyl hulle wag vir ‘n melkskommel of burger word hulle subtiel omring deur aanhalings met ware woorde.

Dit is egter werklik iets om SELF te sien en te beleef – lekker gerieflik op die skoolterrein geleë. Vanaf die ingang tot by elke plekmandjie is daar brokkies sielskos opgeteken om elke hart te raak.

Die spyskaart strek van ‘n bottel “windpompwyn “ (water) tot lekker spesiale verrassings soos waatlemoen en roomys. En die beste van alles is die pryse! Dit is sommer spotgoedkoop sodat elke leerling darem so af en toe kan bekostig om daar ‘n draai te maak.

Dit is nie moontlik om op skrif te verduidelik hoe ongelooflik mooi hierdie plek is nie – die dekor en versierings en detail is absoluut asembenemendd. Die hele atmosfeer slaan sommer jou voete onder jou uit.

Hierdie nuwe breinkind is eerstens spesiaal vir ons leerders geskep, MAAR is ook oop vir die publiek – elke dag tot 17h00. So, doen jouself ‘n reuse guns en gaan maak daar ‘n draai en oordeel vir jouself, terwyl jy ‘n salige cappuccino geniet.

(Spesiale geleenthede, soos verjaarsdae, kan ook daar gereël en gevier word.)

Ons kinders het nou ‘n spogplek waar hulle in die middae kan kuier en ook waar ouers en leerkragte van besoekende skole met trots ontvang en onthaal kan word!


Plus………………

Sou jy dan net dalk skuldig voel oor die paar ekstra kilojules wat jy by Ware Woorde versamel het, kan jy ook sommer dan ‘n draai maak by die splinternuut, goed ingerigte gimnasium – ons heel eie sweethok!

Weer eens – ontwerp en gestig om eerstens die skool se leerders se spiere te pas, maar is ten tweede ook toeganklik vir ENIGE lid van die gemeenskap.

Van ‘n trapmeul tot ‘n lekker skud masjien is daar beskikbaar.!

Aerobiese oefenklasse word daar aangebied - kontak gerus vir Lena Opperman by 082 4740769.                             .

Lena is ook die bestuurder van hierdie gym, so kontak haar gerus vir enige navrae of lidmaatskap.

Dis opwindend en opbouend en verfrissend.

Word deel daarvan.

Bederf jouself!

Vir enige navrae kan Magda du Plessis gekontak wod by 082 321 32 36.